Postimpressionisme

Henri Rousseau, Le Centenaire de l'indépendance, 1892, Getty-sentrum, Los Angeles.

Postimpressionisme (ook Post-Impressionisme gespel) is ’n oorwegend Franse kunsbeweging wat rofweg tussen 1886 en 1905 ontstaan het; van die laaste impressionistiese uitstalling tot met die begin van fauvisme. Dit het ontstaan as ’n reaksie teen impressioniste se naturalistiese uitbeelding van lig en kleur. Vanweë die klem op abstrakte eienskappe of simboliese inhoud, het postimpressionisme ook neo-impressionisme, simbolisme, cloisonnisme, Pont-Aven-skool en sintetisme omsluit, sowel as sommige latere impressioniste se werk. Die beweging is gelei deur Paul Cézanne, Paul Gauguin, Vincent van Gogh en Georges Seurat.

Die term "postimpressionisme" is die eerste keer in 1906 deur die Engelse kunsresensent Roger Fry gebruik.[1][2] In 1910 het hy weer die term gebruik toe hy die uitstalling Manet and the Post-Impressionists reël. Hy het dit gedefinieer as die ontwikkeling van Franse kuns sedert Manet.

Postimpressioniste het impressionisme uitgebrei, terwyl hulle die perke daarvan verwerp het; hulle het steeds helder kleure, dikwels die dik aanwending van verf en lewensgetroue onderwerpe gebruik, maar was meer geneig om geometriese vorms, verwronge beelde vir effek en onnatuurlike of wispelturige kleur te gebruik.

  1. Richard R. Brettell, Modern Art, 1851-1929: Capitalism and Representation, Oxford University Press, 1999, p. 21
  2. Peter Morrin, Judith Zilczer, William C. Agee, The Advent of Modernism. Post-Impressionism and North American Art, 1900-1918, High Museum of Art, 1986

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by razib.in